Die Paartjie op Touwsrivier

Andy Warhol Car Crash Silver 2
Net buite Touwsrivier het hulle 1993 wit Toyota Camry sy laaste gulsige hap uit die brandstoftenk gevat. Oom Daan het geweet hy en sy vrou Ansie gaan by die Engen op die dorp se soom moet stop.
Die rit van George was stil. Bedees. Oom Daan het net so nou-en-dan vir Ansie gevra om die klein koelersak agter die passasiersitplek aan te gee. Sy het die oggend vir die laaste keer in haar ruim plaaskombuis, met die teëlrangskikking van wit ganse bo haar stoof, gekookte eiers, tamatie-en-kaastoebroodjies, droëwors en ʼn fles koffie gepak. Sy sou so sit in die kar en kyk hoe die landskap verander. Van tuinroete se lowergroen tot die dorre Karoo se meedoënloosheid van klip en jakkalsskedels.
By die vulstasie het oom Daan vir die soveelste keer sy kaart in die OTM gedruk. Hy het eers gehuiwer. Weer sy Blackberry uitgehaal en gekyk of daar nie dalk ʼn kennisgewing van die bank is nie. ʼn Klein greintjie hoop. Net ʼn paar sente om hom en sy Ansie veilig tot in die Kaap te bring. Hy het vir sy dogter gevra om ʼn paar rand oor te betaal en vir haar gelieg. Hy het gesê dit is om sy nuwe lisensieskyf te gaan kry. Nie omdat hy geld nodig het omdat hulle dros nie.
Niks. Hy sug en vryf met sy ruwe duim van jare se werskaf op die plaas die foon se skermpie skoon.
Hy besluit om die kaartjie tog in te druk. Wie weet? Banke kan nie vir al sy kliënte 24 uur per dag SMS’e stuur nie? Nie eers die bank het so baie geld om op airtime te spandeer nie.
Hy druk versigtig sy pinkode in. 193105. Ansie se geboorte maand en jaar. 5 Mei. 1931. Hy lees die bedrag. Sug. Neem sy kaart en gooi die strokie in die klein asblikkie en stap terug na hulle motor.
Oom Daan sien ʼn jong man in ʼn silwer klein motortjie langs sy Camry stop. Een van daai Koreaanse karre. Hy het nooit iets vertrou wat hy nie eers behoorlik kan uitspreek nie.
Hy stap bedees na die jong man toe. Hy daal nooit so laag om vir geld te vra nie, maar as hy dit nie doen nie, gaan hulle dit nie maak tot in die Kaap nie. Daar wag ʼn job as ʼn kruinoperateur by die hawe vir hom.
Hy gaan vra skaam en versigtig vir die man. Hy is lank en skraal. Inkepe op sy voorkop wys dat hy binnekort daai bruinlokke van hom koebaai gaan roep.
“Jammer, meneer,” hy kom agter sy stem is skielik hees. So asof die snare van sy stembande skielik styfgespan word. Die jong man draai om. Hy dra ʼn leerbaadjie met stywe noupypjeans. Oom Daan wonder of hy in die oggende van die kas af moet spring om in daai broek in te kom.
“Ja, oom?” Die man frons effens, maar sy gesig is gemoedelik. Oop. Dit lyk soos ʼn verstandige seun, dink hy.
“Ek en my vroutjie is op pad Kaapstad toe.
“Ek het soos my pa en sy pa se pa op ons plaas geboer op George, maar die droogte het ou bene van die boerdery gemaak. Ons sit nou met die paar goedjies in ons kar.
“My kinders sit almal oorsee. Ek het nog nie vir hulle gesê daar is nie meer ʼn familieplaas om Krismis by te kom kuier nie.
“Ons probeer op die volgende dorp kom, maar daai ou Camry is mos maar ʼn gulsige masjien as dit by petrol kom.”
Oom Daan kan voel sy linkerbeen raak rusteloos. Hy vryf sy arm en wag vir ʼn antwoord van die man. Dit voel soos ʼn ewigheid.
Die man se frons verdwyn. Sy bruin oë versag.
“Jis, Oom… ek is self op pad Kaap toe. Ek het ook nie veel geld nie, maar ek is seker ek kan ietsie vir oom-hulle gee. Ek sal kyk hoeveel ek kan trek.”
Die seun verdwyn met sy kierie-beentjies in die Quick Shop in.
Oom Daan gaan staan by die kar. Hy sien Ansie is besig om uit die Bybel te lees.
Ag jirretjie, dink hy. Die vrou het geen meer hoop vir ons nie, maar ten minste is sy nog gelowig. Job se geduld, dink hy. Dit is al wat Ansie nou nodig het. Hy sal weer vir hulle ʼn pragtige plaasopstal kry.
Een daar in die Matroosberge se wêreld sodat hulle die Here se wit laken op die berg se toppe kan dop hou terwyl hulle op die voorstoep sit.
Oom Daan se oë volg die man deur die winkel se glasvensters soos wat hy by die OTM geld trek en na die Steers toe stap.
Nou voel hy nog meer soos ʼn charity case. Die man kom met twee koppies koffie terug.
Dalk kry hulle weer ʼn paar werfkatte wat kom en gaan soos hulle lekker kry. Dalk is daar tarentale. Sy oupa het altyd na hulle verwys as polisiehoenders oor hulle koppe soos dié van ʼn polisiekar se sirenes lyk.
“Hierso oom. Vir die pad, sodat oom nie agter die stuur aan die slaap raak nie.”
Hy gee twee koppies koffie vir hom en plak ʼn R100-noot in Oom Daan se hand.
“Dit is nie baie nie, oom, maar dit sal oom-hulle op ʼn plek kry wat nie so godverlate is nie.”
Tannie Ansie breek haar stilte.
“Die Here seën jou, my kind.” Sy het ʼn gehekelde kombersie oor haar bene. Die Bybel nog voor haar oop.
Die man se oog vang ʼn stukkie in die Bybel wat sy onderstreep het. Steek vas asof hy dit lees en loop dan na sy motor.
Oom Daan wag eers dat die jong man ry voor hy die Camry na die petrolpompe vat. Hy wuif vir hom.
Die gesuis van die Camry se wiele op die teerpad kalmeer vir oom Daan. Vir die eerste keer sedert hulle uit George gery het, begin hy weer ʼn toekoms vir hom en Ansie sien.
Die Moederstad. Dit was vir hom altyd so lekker om daar by die Waterfront te gaan rondloop. Skilderagtig-mooi het sy oudste dogter, Rachel , altyd gesê. Die berg ingeëts aan die eenkant en die see aan die ander.
Ansie sit en staar by die ruit uit. Bybel op die skoot. Hande oor die boek gevou. Dit lyk vir hom of sy ook begin droom oor hulle nuwe lewe.
Skielik is daar ʼn harde geknars van metaal op metaal. Hulle torring en kantel. ʼn Pyn skiet deur oom Daan se nek. Hy klou vas aan die stuurwiel.
Oom Daan het om ʼn haarnaalddraai nie die aankomende motor gesien wat ʼn ander een probeer verbysteek het nie.
Die windskerm ontplof in miljoene glasstukkies. Hy kan die doodskyk op Ansie se gesig sien soos wat die motor tuimel en draai.
En toe, die niksseggende donkerte. So asof die Here ʼn swart kleed oor Oom Daan se kop gegooi het soos toe hulle as kinder op Naboomspruit donkerkamertjie gespeel het. Hy hoor net die gejaag van sy asem en uiteindelik ʼn oorverdowende stilte.

Die N1 is afgesper. Die Camry is net ʼn verinneweerde homp metaal. Die voorkant in sy maai. Die blou en rooi ligte van nooddienste glinster op die N1 soos wat ʼn jaloerse reënbuitjie uitsak. Soos tarentale wat in gelid marsjeer staan die polisievoertuie in ʼn ry.
Die een konstabel loop verby die motor. Sy oë wat afkyk grond toe. Hy wil nie sien hoe die twee liewe ou mense ná so ʼn ongeluk hul einde gesien het nie.
Hy merk ʼn vel papier op wat moedswillig in ʼn fynbos deur die wind rondgepluk word. Dis ʼn bladsy uit die Bybel uit, sien hy.
Hy tel dit op. Daar’s ʼn streep bloed op die papier en ʼn versie wat onderstreep is. Hy lees dit:
“Korintiërs 4:8, 9
“In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie.”

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s