Ventersdorp se Stripper

ventersdorp

Die laaste mans is deur die kroegman en bouncer, Dimitri, by die deur uit vergesel. Al slingerend klim die groepie in hulle minibus. Op die kant van die bussie staan “Laerskool Klerksdorp” in maroen letters.

Al jillend trek die klomp onderwysers weg onder die flikkerende rooi neonligte.

Die Venter-treiler wat hulle agterna sleep kantel links en dan regs soos wat die dronkies “Boobs, boude en bene,” van Pieter Koen luidrugtig sing.

Dimitri kyk die klomp agterna soos wat hulle in die donker strate van Ventersdorp verdwyn. Iewers op pad na ñ gastehuis waar hulle hul dronk lywe kan neer ploeg.

Hy sug en steek ñ Voyager aan. Met sy ander hand vryf hy deur sy borselkop. Hy blaas die rook by sy neusgate uit en kyk na die flikkerend neonligte wat “Cheers!” spel.

Binne blêr die klub se musiek nog.

Hy trap die stompie met sy hak dood en stoot die groot staaldeur oop.

Flitsende ligte van rooi, groen en geel dans teen die mure en die vloer.

Nicole sit met ñ brandewyn en coke by die kroegtoonbank en tuur voor haar uit.

Sy verstel aan die luiperd jurk wat sy hom haar lyf toegedraai het.

Dimitri gaan sit oorkant haar en speel met die goue ketting om sy nek.

“Fokkit, Dimitri. Ek kan nie meer nie!”

Nicole sê dit hard sodat hy dit bo die polsende musiek kan hoor.

“En vir fuck sakes. Sit daai donnerse geraas af. Hier is nie meer mense nie.”

Dimitri knik en gaan draai die volume sagter. Theuns sing nog saggies op die agtergrond Beautiful in Beaufort-Wes.

“Nog ñ fokop van ñ naweek. Hier kom nie meer genoeg dronk etters deur hierdie deure nie.

“Ek’s klaar. Finish en klaar. Koebaai-meraai!”

Sy gryp een van Dimitri se sigarette uit sy boksie en steek dit brand.

Sy blaas die pluim rook boontoe. Dit dans saam met die ligte wat die vertrek verhelder.

“Daai dae is verby.” Sy wys met haar sigaret na die geraamde Sondag-berig teen die muur.

Dit lees: “Ventersdorp se stripper het die AWB spuls.”

“Die glory days is verby my ding. Ons kan die joint nou maar toe maak.”

Dimitri gee net ñ beteuterde kopskud.

“Nou wat die fok sal ons anders doen, Nicole?

“Jy ken net van jou tiete wys en om soos ñ verwarde pelikaan sonder ritme op sokkie treffers te dans.”

“Fok jou!” skel Nicole hom.

“Nee, fok jou.”

“Fok jou, man. Ek is moeg vir jou gesanik!”

Sy druk die sigaret met geweld in die asbakkie dood.

“Vanaand moes ek al weer kaalbas saam met ñ boepensvark sokkie om net ñ ekstra R100 te kry. Ek kan nie meer nie, Dimitri.

“Het jy gesien hoe mooi is klein Jaco se skoolrapport?

“Ons het gesê ons doen hierdie net vir hom, maar kyk nou! Ons kan nie eers die kind se skoolgeld betaal nie.”

Dimitri vat ñ sluk van Nicole se drankie en sit sy hand op haar arm.

“Ons moet net aanhou probeer, skat,” paai hy haar.

“Probeer se gat man! Hierdie nuwe stunt wat jy vir my uitgedink het om lighter fluid op die vloer te brand en op Rammstein se Du Hast te dans is belaglik!”

“Man, daar in Europa werk dit.”

“Wel, nie hier nie. Jy was anyway nog nooit vêrder as die Oranjerivier nie! As dit nie vir die onnies was nie, het ons al weer vanaand fokkol gehad om te eet.”

Vir ñ paar oomblikke is dit stil tussen die twee van hulle.

“Onthou jy nog hoe hierdie plek uit sy nate gebars het toe E.T nog gelewe het?” breek hy die stilte.

Nicole se oë versag. Haar voorste vrot tand flits vinnig soos wat sy ñ glimlag in Dimitri se rigting gee.

“Onthou jy hoe daai donnerse Atilla ook in die klub toegelaat is?” Nicole se vraag is retories.

Hulle albei kan onthou toe die AWB-leier met sy groot, vurige, swart ros met sekelnek en lang, vloeiende maanhare in die klub rondgetrippel het.

“Gooi nog ñ doppie daar Dimitri, en Nicole – wikkel daai boudjies vir oom Eugene!” sê die twee so tegelyk asof hulle so pas uit dieselfde koppie van herinnering gedrink het.

“Dit was goeie tye gewees, Dimitri,” Nicole verwag nie dat hy moet reageer nie.

“Nou sit ons hier. Twee fokops wat nie eers na ons kind kan omsien nie.”

“Ek sal môre met die dominee gaan praat, liefie.

“Dalk sal hy kan help om darem net vir klein Jaco nog ñ maand in die skool te hou. Die skoolvakansie is om die draai en dan kan ons weer aan ñ ander plan dink.”

Nicole gooi die halwe brandy en coke in haar keelgat af.

“Jissis, man. Kyk hoe lyk ons! Die dorp noem ons nie verniet die hoer en die hobo van die dorp nie! Hoekom sal dominee ons wil help?

“Toe ek by Jaco se revue gisteraand was, vra een van die ma’s my wanneer laas het ek gegaan vir ñ HIV-toets. Ek meen, what the fuck?”

Dimitri skud net sy kop.

“Ek weet ook nie meer nie, skattie.

“Ons moet seker maar vir Jaco by jou sussie gaan haal?”

Nicole knik.

“Laat ek net gou op cash en vir my klere gaan aantrek.”

Dmitri staar na die flikkerende neonligte terwyl hy in die cream Opel Cadet vir haar wag.

Die neonligte flikker op die neus van die motortjie.

Nicole plant albei haar voete in die grond om die swaar deur toe te trek. Sy sluit dit met ñ eenvoudige knipslot toe. Die derde slot in twee maande. Die laaste keer het booswigte die slot met ñ spanner oopgebreek en al hulle voorraad van drank gesteel.

Dit het hulle genoop om by oom Swannie van die drankwinkel ñ tamaai van ñ rekening op skuld aan te gaan.

Die twee trek ruk-ruk weg in hulle motor. Blou rook verlaat die uitlaatpyp soos wat die olie op die enjin lek.

Iewers begin ñ olyflyster te kwetter terwyl die môregloed die populierbome in oranje tooi.

In die motor sê die paartjie nie ñ woord vir mekaar nie.

In die kattebak is afgesnyde tuinslang.

Dimitri en Nicole het nie met mekaar afgespreek wanneer hulle dit gaan doen nie. Dit was soortvan telepatie dat die twee op Geloftedag besluit het om dit te doen. Dalk het hulle gedink dit is tot ñ mate poëties van aard, of dit was maar net pure toeval.

Op ñ heuwel net buite die dorp het hulle gaan stop.

Nicole het stip voor haar uitgestaar terwyl Dimitri die tuinslang uit die kattebak haal.

Hy voer die een punt in die uitlaatpyp in. Die ander een sit hy deur ñ klein gleufie deur die agterste venster.

Hy klim in en laat die motor luier.

Nicole verstel aan die radio se volumeknoppie terwyl hy ñ klein foto van ñ blondekop seuntjie op die paneelkissie neersit.

Hulle albei staar daarna terwyl Valiant Swart se Transvaal oor die luidspreker speel.

Dimtri begin neurie terwyl ñ traan oor sy wang rol.

“Wonder jy wanneer die oubaas jou kom haal?

“Is jou huur betaal, sal jy vir altyd hier kan bly in die Transvaal?”

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

w

Connecting to %s